Hallo, liewe Padlangs vriend en vennoot!
Net kortliks...
Met ons gaan dit gaan goed, want die Here is goed. Hy voorsien vir ons, Hy lei ons en hou sy hand oor ons. Hierdie jaar het ons bediening eintlik 'n nuwe dimensie ingegaan. Ek is o.a. besiger met beraad as in die verlede (en sommer besiger oor die algemeen), nog boeke is op pad en nuwe dinge gebeur ook met ons bediening, soos die volgende:
- ons span het weer uitgebrei en daar is nou sewe mense betrokke by Padlangs,
- 'n Duitse By The Way-webruimte is in wording en ek hoop om dit oor 'n maand bekend te stel,
- mooi getuienisse het na vore gekom, en dis ook duidelik dat heelwat mense ons oordenkings op hul eie verder aanstuur, in een geval tot vir 400 mense daagliks.
Dis alles seën wat ons beslis nie verdien het nie. Ek kan egter nie help om dit ook te koppel aan die groter dissipline waarmee ek deesdae vir Padlangs bid nie. Ek bid dat elke dagstukkie en elke kursus sy spesifieke doel sal bereik, dat die Heilige Gees 'n mens se woorde sal gebruik om God se boodskap oor te dra, en dat Hy genadig sal wees oor die gebedsbehoeftes wat na ons gestuur word. Ek skryf dikwels met die wete dat ons lesersgroep divers is (wat vir die een te geestelik is, is vir die ander te ongeestelik) en bid eenvoudig dat die Here dit alles gebruik soos Hy wil. Ek kan in elk geval net ék wees, vir Hom.
|