DAAGLIKSE STILTE NUUS
View in browser
Langs die Pad
JUNIE 2020

Wintergroete!

Dis so br-britter koud in die Kaap, my asem maak sommer binne-in my huis wasem. Dit het goed gereën en ook oraloor gesneeu. Julle het sekerlik die pragtige prente gesien. Ja, daar was ook oorstromings en 'n geweldige wind.  Ons is baie dankbaar vir die damme wat nou weer water kry. Die res van die land is net so koud! Ek het hierdie maand een belangrike aankondiging en dan is daar nog een of twee kleiner sakies:

Nuwe kursus!
Ons huidige vlagskip-kursus (die een wat die meeste kursusgangers ontvang) maak binnekort klaar. Dan begin ons op die 30ste Junie met iets besonders: die vierde module van KIES, ons life coaching program. Hierdie deel pas aan by die vorige

dele, maar word ook heeltemal op sy eie aangebied. Die kursus se naam is "die tweede helfte" en gaan oor die lewe van die middeljare en verder: aftrede en die latere seisoene van jou lewe. Dis geskryf vir diegene van so 50 e.v. Ons temas dek die veranderinge wat jy kan verwag, verhoudings in hierdie tyd en hoe om sinvol deur hierdie seisoene te beweeg. Hierdie tyd - soos elke tyd - het sy eie uitdagings, maar is ook die kroon van 'n lewe wat aan God gewy is. KIES is lewensbegeleiding en bestaan uit notas en toepassing, maar jy besluit self hoe jy dit wil aanpak.  As jy die huiswerk wil instuur, sal ek daarop antwoord. So word dit persoonlike begeleiding, wat baie waardevol is. KIES is relevant, prakties en gelowig. As jy nie self "die tweede helfte" wil ontvang nie, kan jy dit laat stuur aan iemand wat jy nomineer. Ek skryf al agt weke hieraan en is baie opgewonde! 

  • Vir inligting oor DIE TWEEDE HELFTE, kliek hier.
  • Vir inligting oor KIES oor die algemeen, kliek hier

Nog nuus
1. Van die geestelike vrae wat mense instuur is meer algemeen van aard. Dan plaas ek 'n antwoord daaroor op ons webruimte. Ek het byvoorbeeld onlangs 'n antwoord geskryf oor die kwessie van "eenmaal gered, altyd gered". Kyk gerus daarna, of die tientalle soortgelyke vrae wat ek in die verlede al geantwoord het.

2. Ek wil ook weer aandag vestig op ons Engelse oordenkings. Waar dit in die verlede deur myself vertaal is, op die Boere-manier, word dit al 'n jaar of langer professioneel hersien deur ons Amerikaanse medewerker. Dit is van hoogstaande gehalte en ek wil "BY THE WAY" nou weer op verskillende maniere bekend stel. Stel dit gerus voor aan jou Engelse vriende of kliek hier as jy wil inskryf. 

3. Ons geniet tans ons weeklikse Zoom-klas vir Openbaring baie! Ek moet sê, ek sou graag wou voortgaan met aanlyn-klasse, dit werk eintlik so lekker.

    Dis genoeg vir nou. Ek bid daagliks vir ons Padlangs vriende en vennote en prys die Here vir julle almal. Dis so 'n voorreg om die geestelike pad te mag saamstap - dankie daarvoor! 

    Mag die Here jou ryklik seën en jou en jou geliefdes bewaar. Lees weer Psalm 91, dit het die laaste week weer vir my baie beteken. Alles van die beste!

    Jimi en Maryke

    Jimi le Roux

    PO Box 233, Kuils River, 7160, Cape Town
    South Africa

    facebook twitter

    Jy ontvang ontvang hierdie pos 

    omdat jy op ons poslys ingeskryf is.

    Teken van alle pos af
    MailerLite