DAAGLIKSE STILTE NUUS
View in browser
Langs die pad
MAART 2019

Hallo vriend!

Hoop dit gaan goed! Mag jy lig leef, vrede hê en mooi dinge uit die Here se hand ontvang. By ons was dit die laaste tyd vreeslik besig en ek wil dadelik induik met enkele kort nuusbrokkies:

Uit met die oue... (dissipelskap)

Ons reeks van die laaste jaar en 'n half het Vrydag geeïndig. Ons het die tema van dissipelskap deeglik deurgewerk. Ek bid dat dit jou as volgeling dieper kon intrek in jou verhouding tot die Meester. Laat weet gerus as dit jou geseën het - ons het al 'n hele klomp boodskappies gekry! Jy kan ook vir ons 'n aanbeveling skryf op ons Facebook Page - kliek hier en gaan dan na Reviews. Dit help ons blad se sirkulasie aan - baie dankie! Onthou dat hierdie hele reeks gebaseer is op 'n kursus, wat die hele tema saamvat. "Geestelike Vorming" is ons "basiese" kursus en al deur honderde gevolg. Die eerste vyf dele daarvan is bedoel as 'n "kort-kursus vir nuwe Christene", met die héél basiese inligting oor dissipel-wees (en kan toevallig verniet afgelaai word - kliek hier).

In met die nuwe... (Name)

Ons begin vandag met 'n splinternuwe reeks, nl. Naam bo alle name. Dis eweneens gebaseer op een van ons populêre kursusse. Elke dag neem ons 'n Naam van God in die Bybel en kyk kortliks wat dit beteken, asook wat dit vir MY beteken. Vir meer inligting oor hierdie reeks kliek hier, en vir meer oor ons gelyknamige kursus kliek hier.

Ten slotte, nog 'n aantal sake...

1) Ons is in die Lydenstyd, die Vaste, en deel 'n daaglikse gebed hieroor op ons Facebook-blad. LIKE gerus ons blad (kliek hier) om dit te kry, as jy Facebook het. Jy kan ook hier kliek as jy wil lees hoe jy die Lydenstyd kan aanpak, soos miljoene Christene oor hierdie tyd doen.

2) Onthou asseblief dat ons oordenkings ook in Engels beskikbaar is: kliek hier om daarvoor in te skryf.

3) Onthou ook dat jy dit kan ontvang as 'n daaglikse voorlesing op jou WhatsApp - kliek hier vir die info. Hier wil ek vir Olga Maartens van die Namibiese onderwysdepartement baie dankie sê vir die groot werk wat sy in die verband doen.  Elke dag - reeds vir twee jaar - lewer sy 'n keurige en kunstige voorlesing af. Dit word SO waardeer!

4) Terwyl ons van vrywilligers praat - ons sal vorentoe iemand benodig wat daagliks oordenkings of gebede op sosiale media platforms kan plaas.  So iemand moet dus sosiale media ken en in staat wees tot 'n daaglikse verbintenis. Ai, en as 'n Engelse persoon daagliks my Ingels kan deurlees en regmaak sal dit ook wonderlik wees, haha. Dis grammatikaal meestal reg, maar dis dikwels nie soos die Engelse dit sou sê nie. Bid asb. daaroor - baie dankie!

5) Ek het oor die volgende saak ook gebid en voel die Here sê "ja". Ek het weer 'n behoefte wat 'n rekenaar betref, en dis nou ons "desktop". Dit het aan ons seun behoort, seker tien jaar gelede, maar moet dringend opgegradeer word (moederbord, CPU, RAM, hardeskryf en Windows). As iemand 'n redelik onlangse rekenaar het wat tans nie gebruik word nie, sal ek dit met graagte oorneem - soms staan daar so een rond? Ek wil eers hierdie roete volg voor ek net 'n nuwe een gaan koop. Baie dankie - en ek wil asseblief nie hoor van diegene wat reeds groot bydraes maak tot ons bediening nie!

6) Nog iets oor rekenaars: ek stuur tweedehandse, maar goeie bruikbare skootrekenaars na die Oos-Kaap, waar kollegas van my met bitter min oor die weg kom. Laat weet as jy iets kan skenk wat vir die koninkryk waardevol kan wees. Baie dankie!

Dit is wat ek hierdie Maart-maand wou deel, vriend. Mag ek afsluit deur die grootste waardering uit te spreek vir jou deelname aan ons bediening - hetsy deur 'n dagstukkie te lees, 'n kursus te bestel of 'n briefie te skryf. Baie, baie dankie - dis so 'n voorreg om die geestelike pad saam met soveel medegelowiges te stap.

Die Here seën jou!

Jimi en Maryke

Daaglikse Stilte

Posbus 610, Somerset Mall, 7137, Cape Town
South Africa

facebook linkedin wordpress

Jy ontvang ontvang hierdie pos omdat jy op ons poslys ingeskryf is.

Teken van ons poslys af
MailerLite