Hallo daar!
Kan jy glo, dis al Junie en ons baklei steeds teen CoVid - nou amptelik in die derde golf. Dit maak soveel emosies los. Ek kan nie wag vir my inenting nie, maar dit gaan so stadig! En intussen gaan die lewe aan... Ek fokus hierdie keer op die volgende opwindende nuus:
Geestelike Vorming: "Skool vir Dissipels"
Dit lê swaar op my hart om meer by dissipelskap en dissipelering betrokke te wees, en ek wil dit doen deur ons bestaande kursus, "Geestelike Vorming". Die kursus dek al die wesenlike aspekte van 'n verhouding met God. (Hieronder is 'n skakel na die volledige inhoud van Geestelike Vorming.) Die kursus is lank, maar ons sal dit in korter blokke aanbied in die loop van 2021 en 2022. Ek voel hierdie inhoud is wat nodig is - die basiese praktyke - om vandag 'n dissipel van Jesus Christus te wees.
Ek wil die kursus egter as 'n "skool" aanbied deur videos met agtergrond-inligting daarby te voeg en die tema dan in 'n weeklikse Zoom-klas te bespreek. Baie van die waarde van so 'n klas lê in die vra van vrae en die bespreking daarvan vir die praktyk. As jy reeds Geestelike Vorming se notas het, kan jy besluit om net die videos te kyk en/of die klasbesprekings by te woon. As jy die notas wil bekom, kan jy ons gewone bydrae daarvoor betaal, maar die eerste vyf weke se notas is in elk geval gratis. Enige-een kan egter ook die program heeltemal gratis volg deur net die videos te kyk (dit dek min of meer dieselfde inhoud as die notas) en die klas by te woon. Ons eerste klas sal Maandag-aand 5 Julie om 20:00 wees en ons sal in die vorige week reeds die notas en videos beskikbaar stel. Die belangrikste nou is om solank by die Facebook-groep aan te sluit waar ons al die reëlings, videos, notas ens. sal plaas. Wat jy verder daarmee maak is eintlik jou eie saak. Jy kan byvoorbeeld ook agterna, op jou eie tyd, deur die notas en videos werk.
|