Hallo daar!
Dis weer tyd vir ons maandelikse nuusbrief. Ek bid dat jy gesond en geseënd is, en as jy tans uitdagings beleef, dat jy die Here se nabyheid en krag sal ervaar. Hy IS by jou. By ons gaan alles goed en ons prys die Here daagliks. Motors breek mos maar en pryse styg, maar die Here voorsien telkens weer. Ek hou van hierdie spreekwoord: Life is hard but God is good. Ja, dis waar!
Praktiese reeks oordenkings
Ons het onlangs begin met 'n nuwe reeks oordenkings, In Praktyk. Dis gebaseer op 'n kursus met dieselfde naam van 'n paar jaar gelede, maar die direkte aanleiding was terugvoer wat ek ontvang het oor ons lesers se behoeftes. Praktiese kwessies is spesifiek uitgelig, en daarom gaan hierdie reeks oor die praktyk. Trouens, dis die mees praktiese oordenkings wat ek al ooit geskryf het - dit gaan letterlik oor ons eet en drink, die verkeer, jou humeur, die media, politiek, stres, werk en vele meer. As jy meer oor In Praktyk wil lees, kliek hier.
Ek wonder soms of sommige dit as "ongeestelik" sal beleef, maar glo vas dis net so geestelik as temas soos gebed en geloof. Dis immers waar ons geestelike lewe die gewone lewe tref - die tekkie die teer, met ander woorde. Die terugvoer tot op hede was egter goed, alhoewel nie almal altyd saamstem nie (o, en die tema van politiek en klimaat lê nog voor!), maar dis hulle goeie reg. Dis eintlik moeilike temas, want life is hard... Laat weet gerus hoe jy die nuwe reeks beleef!
|